Nataniël verdien nie dat sy optrede by Afrikaans is Groot 2026 as demonies of godslasterlik bestempel word nie, sê die kreatiewe regisseur Carien Loubser.
Loubser het met Nuusflits gesels oor ‘n sosialemediaplasing van JC Lamprecht wat gesê het hy het Vrydagaand by die konsert uitgestap, omdat ‘n deel van die vertoning volgens hom teen sy Christelike geloof ingedruis het. Loubser sê die foto’s wat Lamprecht gedeel het, is só gesny dat dit ’n misleidende indruk van die verhoogitem skep. Sy sê die lirieke en die storie wat die flambojante Nataniël op die verhoog vertel het, dra saam ’n mooi boodskap oor. Vir haar is dit onregverdig om die kunstenaar te etiketteer op grond van enkele beelde uit die vertoning.
As ‘n kreatiewe bestuurder sê sy dit is normaal dat nie almal van die byna 100 000 konsertbywoners van elke optrede of kunstenaar sal hou nie. “Maar ek kan onomwonde sê dat Nataniel se storie geensins demonies van aard is nie. Dis defnitief anders, uniek, kreatief, buitengewoon – presies soos hy as skeppende kunstenaar is. Mense wat nog nooit in n teater was nie, sal dit dalk nie waardeer of verstaan nie, maar dit beteken nie dis demonies nie.
Nataniel behandel almal om hom, insluitende sy gehoor, al vir byna 40 jaar met die grootste respek, was en is nie godslasterlik soos kwytgeraak is nie, nie in hierdie show of geen ander show voor dit nie. Mens hoef nie van alles te hou nie en jy hoef ook nie alles te verstaan nie, maar dis onregverdig om iets wat jy nie verstaan nie as demonies af te maak.”
Loubser verduidelik voorts elke persoon het die reg om sy eie interpretasie te maak. “En dis eintlik die wonderlike ding van musiek. Musiek het baie vorme. Jy kan dans daarop, of diep raak, jy kan iemand vra om te trou daarop, jy kan dit by ‘n begrafnis speel, soms laat dit jou onthou, of dit kan jou laat vergeet, musiek kan jou laat lag of dit kan jou laat huil. Dis ‘n storie so oud soos die berge; selfs Tchaikovsky en Van Gogh is beskuldig van boosheid toe hulle besig was met hulle beste werk, want mense kon dit nie verstaan nie. As iemand kies om ‘n “hater” te wees, kan jy regtig niks daaraan doen nie. Ek het regtig niemand sien uitstap nie. Die gehoor sit bankvas tot die einde en 99.9% van die terugvoer is uit die boonste rakke. Vir baie mense was Nataniël ‘n hoogtepunt.”
Die sanger Juandré “JD” Marais, verloofde van die sangeres Corlea, sê in sy gewysigde sosialemediaplasing dat hy ook by die konsert was en dat niks in Nataniël se deel van die vertoning volgens hom demonies van aard was nie. Marais sê Nataniël het ’n kerk op die verhoog gebou, die lied Gogga gesing en daarna ’n storie vertel waarin hy dit verduidelik het. Volgens Marais was daar ’n gospelsegment met twee liedjies daarna. Hy het ook mense gekritiseer wat volgens hom sonder konteks kommentaar lewer of nie self die vertoning gesien het nie.. “En so versprei dit soos ‘n veldbrand, hier is my antwoord: Ek was ook by die konsert. Dis ‘n jammerte jy het so vroeg uitgeloop, 2 songs later was daar ‘n ongelooflike gospelsegment. Jy sien, dis nie om enigiets te verdedig nie, dit gaan oor feite hier en feitlik niks in Nataniel se segment is enigsins demonies van aard nie. Inteendeel, hy bou ‘n kerk op die verhoog. Hy sing ‘n lied: Gogga, en dan vertel hy ‘n storie, waar hy dit letterlik verduidelik. Maar weereens, dit is kuns en gaan bo-oor meeste mense se koppe. Ek reken almal klim nou op die wa en lewer kommentaar, sonder enige konteks of sonder dat hul dit gesien het, en daar is ‘n moerse verskil tussen ‘n opinie en ‘n feit en ek dink jy’t jou feite bietjie verkeerd hier JC, of jy is dalk net oorsensitief en verstaan nie kuns nie. Teen die tyd het daar al 40,000 mense die show gesien, en slegs 1 ou maak ‘n gevolgtrekking dat dit demonies is, en nou spring almal op die wa en hardloop met aannames. Dis belaglik. Ek bly ‘n m**rs* fan van kuns en Nataniel is enig in sy soort.”
Lamprecht het in sy plasing om verskoning gevra aan die ander kunstenaars wat opgetree het. Hy het geskryf dat daar vir hom ’n oomblik aangebreek het waarop dit gelyk het of “die goddelose openlik vereer en verheerlik word”. Hy het in die aangehaalde plasing geen kunstenaar by die naam genoem nie. Hy het wel foto’s gedeel.
Riaan van Rensburg het ook op die omstredenheid gereageer. Hy beskryf die 2026-konsert as donkerder en bevraagteken in sy plasing die geloofsoortuiging van Christene en predikers wat die vertoning bywoon en volgens hom niks daarmee verkeerd sien nie.