WES-KAAP. – ’n Plaaslike 65-jarige man is Maandag ná ’n voorval tydens surfski op die Goukourivier naby die Stilbaai-brug oorlede.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits volgens Stéfan Grové, NSRI Stilbaai-stasiebevelvoerder, is bemanning kort voor 16:00 geaktiveer ná berigte dat ’n plaaslike man in die moeilikheid was tydens surfski naby die jetty in die rivier. Die oorledene het saam met ‘n vriend op die rivier gesurfski toe hy onverwags uit die boot geval het.
’n Lid van NSRI Stilbaai het die voorval waargeneem en die vriend gehelp om die man uit die water te kry, waarna kardiopulmonêre resussitasie (KPR) onmiddellik begin is en nooddienste ontbied is. KPR-pogings is deur nooddienste voortgesit en die pasiënt is per ambulans na plaaslike dokters geneem, waar pogings om sy lewe te red, voortgeduur het.
Die man is uiteindelik in die spreekkamer dood verklaar.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





