GAUTENG. – Die Merafong- en die Lesedi- plaaslike munisipaliteite is beide vir wanbetaling aan Randwater gestraf. Merafong skuld R1.2 miljard en Lesedi R120 miljoen aan die watervoorsiener. Beide ontvang 20% minder water.
Ben van den Berg, van die VF Plus, sê Merafong, wat uit Carletonville, Fochville en Wedela bestaan, is op 1 April in ‘n plaaslike koerant van Randwater se besluit ingelig. Nadat daar nie reageer is nie, is die watervoorsiening Maandag verminder. Die inwoners word gestraf vir die munisipaliteit wat diep in die skuld is en net R8 miljoen kon oorbetaal. Intussen word watertrokke na gemeenskappe ontplooi.
“Dit is onaanvaarbaar dat mense wat getrou hul waterrekeninge vereffen, weens die munisipaliteit se wanbestuur en wanaanwending van belastinggeld met droë krane sit. Dit is tyd om van die ANC ontslae te raak.”
Chanel Colton, ook van die VF Plus, sê Lesedi, wat uit Heidelberg, Ratanda en Viskuil bestaan, se water is ook weens die munisipaliteit se wanbetaling verminder. Omdat die invorderingskoers tot 71% opgeskuif het, is die munisipaliteit se rekening die afgelope vyf maande ten volle betaal, maar die historiese skuld is steeds uitstaande. Die party se raad is om staatsinstellings wat meer as R100 miljoen skuld, te dwing om hulle skuld te delg. Omdat die reservoirs leeg is en nie water aan hoogliggende areas kan voorsien nie, is daar ook watertrokke beskikbaar gestel.
“Dit is onregverdig dat huishoudings hul diensterekeninge betaal terwyl staatsinstellings elke maand al hoe meer agterstallig raak. Die skuldlas kan nie net op huiseienaars en ondernemers geplaas word nie. Dit moet regverdig verdeel word.”
Lees meer hier: https://www.vfplus.org.za/af/mediaverklarings/merafong-inwoners-gestraf-vir-munisipaliteit-se-wanbetaling-aan-randwater/
Lees meer hier: https://www.vfplus.org.za/af/mediaverklarings/randwater-sny-lesedi-se-watertoevoer-met-20/
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





