Plaasmoord – verdagtes in hof, twee vrygelaat

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – Hendrik Venter (81) is Vrydag vermoor op ‘n plaas in Kuruman gevind. Vier verdagtes het Maandag in die Kuruman-landdroshof verskyn, waarvan twee vrygelaat is.

Kol. Cherelle Ehlers sê die vier verdagtes wat in die naweek naby Hotazel in hegtenis geneem is, het in die hof voorgekom. Twee verdagtes, 18 en 20 jaar oud, is vrygelaat.

Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) bly in aanhouding en sal Vrydag vir borg aansoek doen.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

Venter se liggaam met kopwonde is Vrydag omstreeks 09:45 by die hek van ‘n aangrensende plaas, langs sy voertuig, aangetref. Die polisie het bevestig vier verdagtes is in hegtenis geneem.

Kol. Cherelle Ehlers sê die Kuruman-polisie het bevestig ‘n verdagte is aanvanklik gearresteer, maar nog drie verdagtes is in Hotazel aangekeer.

“Die vier verdagtes tussen die ouderdom van 18 en 26 jaar sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.

Kol. Cherelle Ehlers sê aan Nuusflits Venter het sy plaas tussen Kuruman en Hotazel omstreeks 08:30 verlaat om beesposte te besoek. Die polisie is ontbied nadat sy liggaam later ontdek is. Volgens vermoede is ‘n onbekende bedrag geld vermis.

Alle relevante rolspelers is op soek na verdagtes.

“Omstreeks 18:00 is drie verdagtes naby Hotazel ​​opgespoor. Twee verdagtes het gevlug, maar die derde man (25) is aangekeer.”

Ehlers sê daar word volgens vermoede nog na vier verdagtes gesoek.

“Die soektog duur voort en enigiemand wat inligting het kan lt.kol Gert du Plessis by 082 454 2942 bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.”

Verskeie eenhede van Kuruman wat die honde-eenheid, sigbare polisiëring, hoofwegpatrollie, misdaadintelligensie en die plaaslike kriminele rekordsentrum insluit, is deel van die opsporingsoperasie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App