Brekende Nuus
Afrikaans

Plofstof-vonds in Nelspruit lei tot twee arrestasies

Foto's: SAPD

MPUMALANGA. – ’n Buitelander (37) en ’n Suid-Afrikaner (36) is Vrydag op Nelspruit vir die besit van plofstof ter waarde van R130 000 in hegtenis geneem.

Volgens lt.kol. Magonseni Nkosi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisiediens, sê die Nasionale Misdaadintelligensie het inligting ontvang dat twee mans na bewering plofstof in hulle besit het.

Luidens die SAPD se verklaring het die span teen ongeveer 15:30 bevestiging gekry dat die verdagtes by ‘n lodge langs die R40 in Nelspruit was. Lede het die perseel takties genader en twee mans in een van die kamers gekry.

Die plofstof wat gevind is, sluit 50 elektriese ontstekers, 80 springpatrone (Super Power 90 Zambia) en 32 verbindingskoorde in. Beslag is ook op twee selfone en die grys Hyundai i20 waarmee hulle gereis het, gelê.

Die operasie is deur die Valke se Nelspruit-eenheid vir ernstige en georganiseerde misdaad-ondersoeke uitgevoer. Nasionale Misdaadintelligensie, Fidelity-sekuriteitsdienste se hoofkantoor, Fairview-myn en Vikela Barberton, die operasie teen onwettige mynboubedrywighede, het gehelp.

Die plofstof-eenheid en die plaaslike kriminele eekordsentrum is na die toneel en het spesialisbystand verleen.

Die twee verdagtes sal in die Nelspruit-landdroshof verskyn sodra hulle weens die oortreding van die wet op plofstof en die immigrasiewet aangekla is.

Genl.maj. Nico Gerber, provinsiale hoof van die Valke in Mpumalanga, het die multidissiplinêre span vir hul vinnige reaksie op die inligting en die suksesvolle ontwrigting van die vermeende onwettige besit van plofstof geloof.