VRYSTAAT. – ’n 47-jarige adjudant-offisier van die polisie wat by die Maseru-grenspos gestasioneer is, is in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie en afpersing.
Volgens polisiewoordvoerder, lt.kol. Thabo Covane, is die AO Donderdag omstreeks 15:30 in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgevoer is. Daar word beweer dat hy tydens diens ’n man wat van Suid-Afrika na Lesotho onderweg was, gestop en sy sak deursoek het. Hy het glo R71 000 kontant daarin gevind en die man na bewering gedreig met inhegtenisneming vir geldwassery indien hy nie R10 000 omkoopgeld betaal nie. Die man het daarna sy suster, die eienaar van die geld, gekontak en die telefoon aan die polisielid oorhandig. Die suster het glo ingestem dat haar broer die R10 000 oorhandig sodat hy na Lesotho kon voortgaan.
Die polisiebeampte het hom daarna toegelaat om die grens oor te steek met die oorblywende geld. Die man het die voorval formeel aangemeld, waarna die saak aan die provinsiale teenkorrupsie-eenheid oorhandig is. Ná verdere ondersoek is ’n lasbrief vir die AO se inhegtenisneming bekom.
Hy het op 28 Augustus op aanklagte van korrupsie en afpersing in die hof verskyn.