VRYSTAAT. – Die polisie het Woensdag veiligheidsessies met opkomende en kommersiële boere in Koffiefontein en Oppermansdorp gehou om samewerking te versterk en veediefstal hok te slaan.
Polisiewoordvoerders, AO Martin Xuma en sers. Serame Makhele, sê kol. Johan Geldenblom, die Vrystaatse polisie se landelike veiligheidskoördineerder, het die sessies saam met verteenwoordigers van die kantoor van die LUR vir polisie, paaie en gemeenskapsveiligheid, die departement van landbou, plaaslike polisielede en die gemeenskapspolisiëringsforum aangebied.
Boere is herinner aan basiese voorkomingsmaatreëls om veediefstal te beperk. Dit sluit in dat vee behoorlik gebrandmerk moet word, gereeld getel moet word en dat herders oor geldige paspoorte en werkpermitte moet beskik.
Die belangrikheid van voortgesette samewerking tussen boere, die polisie en gemeenskappe is ook beklemtoon. Gesamentlike patrollies tussen boere en die polisie bly volgens die rolspelers ‘n belangrike hulpmiddel in die bekamping van veediefstal. Boere is verder aangeraai om te verseker dat hulle oor die nodige dokumentasie ingevolge artikel 8 van die wet op veediefstal van 1995 beskik, wanneer vee tussen plase vervoer word. Die uitbreking van bek-en-klouseer is ook bespreek, met boere wat aangemoedig is om sover moontlik die beweging van diere te beperk en hul vee goed op te pas in die huidige uitdagende tye.
Tydens die sessies het boere die geleentheid gekry om hul bekommernisse te deel, suksesvolle metodes bespreek om veediefstal te bekamp en bestaande vennootskappe met die polisie verder te versterk. Soortgelyke veiligheidsessies sal na verwagting ook in ander distrikte en polisiekantore aangebied word.





