MPUMALANGA. – Die polisie buite Nelspruit het Vrydagmiddag ‘n transitoroof op die Mngwenya-pad, in die rigting van die N4 in Kanyamazane, gefnuik.
Kol. Donald Mdhluli sê polisielede het opgedaag voordat die misdaad voltrek kon word. Volgens inligting was die kontantwa met veiligheidswagte onderweg na die N4. ‘n Donkerbruin Mercedes-Benz het die kontantwa van agter getref, waarna die bestuurder van die kontantwa beheer verloor het. Die veiligheidswagte is deur ‘n groep gewapende verdagtes met wapens aangehou, terwyl springstof op die kontantwa aangebring is. Vermoedelik wou die verdagtes die toestelle ontsteek, maar naderende polisiebeamptes het die planne in die wiele gery.
Die verdagtes het die Mercedes-Benz aan die brand gesteek net voordat hulle gevlug het. Die geld in die kontantwa is onaangeraak en die veiligheidswagte was ongedeerd.
Mdhluli sê verskeie eenhede, insluitend die Valke en springstofeenheid, het die toneel besoek. ‘n Saak van poging tot ‘n transitoroof is geregistreer.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie. Die Valke ondersoek die saak verder.
Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom. Inligting sal vertroulik hanteer word.
Genl. maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale kommissaris, sê: “Meer as ‘n week gelede het ons ‘n soortgelyke voorval in dieselfde area van Kanyamazane gehad, waar ‘n poging tot ‘n transitoroof plaasgevind het en ‘n motor wat deur verdagtes gebruik is, is ook aan die brand gesteek. Ons is bly dat ons vinnige reaksie, soos in hierdie geval, help. Dit het verdagtes gedwing om hul missie te laat vaar voordat hulle kon kry wat hulle wil hê. Ons beplan om ons pogings op te skerp om hierdie situasie te hanteer omdat hierdie ongeregverdigde aktiwiteite ‘n negatiewe impak op ons ekonomie het.”

