GAUTENG. – ‘n Polisiebeampte in diens as opleidingsinstrukteur vir die SAPD Tshwane-opleidingsakademie (oud-Pretoria-polisiekollege) is Dinsdag gearresteer en uit sy pos verwyder, nadat ‘n student glo verkrag is.
Kamogelo Mogotsi, woordvoerder vir Senzo Mchunu, die minister van polisie, sê GKS (die eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdade) het die versekering gegee dat die slagoffer die nodige mediese sorg en voortgesette emosionele en sielkundige ondersteuning ontvang. Die verdagte is kort ná die aanmelding van die voorval in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag (Vrydag) in die hof verskyn.
Mchunu het die optrede van die instrukteur veroordeel en sê: “Ons verwelkom die vinnige verwydering en daaropvolgende arrestasie van die instrukteur. Hierdie beweerde daad is nie net van ’n kriminele aard nie, maar dit is ’n skandelike misbruik van gesag en ’n growwe skending van die vertroue wat geplaas word in diegene wat veronderstel is om die volgende generasie polisielede te vorm en te lei. Om op ’n jong werwingslid te teer wat gekies het om ons land deur die SAPD te dien, is beide verwerplik en onvergeeflik. Hierdie voorval is in skerp teenstelling met die waardes en etiek wat ons van ons beamptes verwag. Dit ondermyn die integriteit van die polisiediens en die onvermoeide werk van die duisende beamptes wat daagliks met eer dien. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (IPOD) is met die saak belas en ons doen ’n beroep op hulle om geen steen onaangeroer te laat in hul poging om geregtigheid te laat geskied nie. Ons doen ook ’n beroep op vinnige interne prosesse. Die oortreder moet tot verantwoording geroep word, en laat dit ’n duidelike en kragtige boodskap wees, niemand is bo die reg nie.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com