KWAZULU-NATAL. – Polisiebeamptes het Maandagaand onder hewige geweervuur gekom, nadat hulle twee verdagtes in hegtenis geneem het wat volgens die polisie in besit van ’n AK-47 en ammunisie was. Die verdagtes het glo die beamptes gewaarsku dat voertuie wat hulle gevolg het en ‘n AK-47 vir ‘n beplande transitorooftog moes aflewer, op hulle sou skiet.
Die twee aangehoudenes het tydens die skietery skietwonde opgedoen. Hulle is na ’n hospitaal geneem, waar hulle onder polisiewag aansterk. Volgens polisiewoordvoerder, kol. Robert Netshiunda, het die voorval in Cato Manor, in Durban, plaasgevind.
Plaaslike polisiebeamptes was besig met roetine-misdaadvoorkoming en stop-en-deursoek-operasies. ’n Silwer Toyota Etios is by die Bonela-sportveld langs Raymondweg gewaar en die voertuig is genader. Twee mense is in die voertuig aangetref. ’n Deursoeking het gelei tot die beslaglegging op ’n AK-47-aanvalsgeweer en vier vol gelaaide magasyne. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Terwyl die beamptes met die verdagtes na ’n polisiekantoor is om hulle formeel aan te kla, is hulle deur ’n wit Toyota Double Cab en ’n wit Toyota Corolla Cross gevolg. Die aangehoudenes het die polisie gewaarsku dat die insittendes van dié voertuie op hulle sou skiet. Die polisie het versnel, maar is daarna onder hewige geweervuur van die insittendes van die twee voertuie geplaas. Weens die teenwoordigheid van verskeie lede van die publiek het die polisiebeamptes nie teruggeskiet nie. Daar is eerder besluit om taktiese bestuursmaneuvers toe te pas, totdat skuiling by ‘n polisiekantoor ingeneem is.
Die polisie het het intussen ’n soektog na die verdagtes wat na bewering by die skietery betrokke was, van stapel gestuur. Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom.