LIMPOPO. – ‘n Seun (11) is Sondag toegedraai in ‘n kombers in ‘n plas bloed, met ‘n oop wond aan sy nek, in sy huis in Mapuve gevind nadat hy en sy sibbe glo oornag deur hulle ma alleen gelaat is.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Malesela Ledwaba, is polisiebeampes na die woning ontbied, waar ‘n vrou die kamer uitgewys het waar die kind was. Nooddienste is ontbied en die kind is dood verklaar. Sy identiteit word voorlopig weerhou.
Volgens die polisie se eerste bevindinge het die ma van drie kinders, twee, vyf en 11 jaar oud, hulle die vorige nag alleen by die huis gelaat. Toe sy die volgende oggend terugkeer, het sy haar oudste kind dood in die kamer aangetref.
Die Giyani-polisie het ‘n moordondersoek geopen. Enigiemand met relevante inligting word gevra om die ondersoekbeampte, sers. Michael Shivuri, by 078 496 0728 te bel.





