VRYSTAAT. – Die Phuthaditjhaba-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (GKS) ondersoek ’n saak van moontlike kinderhandel nadat ‘n buitelandse vrou (21) Vrydag in hegtenis geneem is. Die verdagte is op beskuldiging van winkeldiefstal in hegtenis geneem, waartydens die gehuil van ‘n kind die polisie se agterdog gewek het.
Luidens ‘n verklaring deur AO Mmako Mophiring is die verdagte by die Setsing-kompleks vir diefstal van skryfbehoeftes in hegtenis geneem. Die aanhoudende gehuil van ‘n baba in haar sorg het egter vir sers. Tshabalala en sers. Ntlati agterdogtig gemaak. Polisiebeamptes het nagegaan of die vrou die kind se biologiese ma is. ‘n Manspersoon wat as die kind se pa aangedui is, is ook glo nie die biologiese ouer nie.
Mophiring sê die departemente van binnelandse sake en maatskaplike ontwikkeling is ook in die ondersoek betrek en die baba is na ‘n plek van veiligheid geneem. Die polisie sê ondersoeke duur voort om die baba se biologiese ouers op te spoor. Enigiemand met relevante inligting oor wie die ouers van die baba kan wees, word gevra om speur.lt.kol. Jwalane Rasunyane by 079 890 0383 te bel. Die wetlikheid van ‘n eis as die baba se biologiese ouers sal nagegaan word.





