KWAZULU-NATAL. – Die polisie het op ses verdagtes van die Marianhill-area, wat glo slagoffers deur sosiale media lok om elektroniese toerusting te verkoop en hulle dan beroof, toegeslaan.
Kapt. Carmen Rhynes sê inligting oor die beweerde bende is ontvang, waarna ‘n operasie geloods is. In die aangemelde sake bly die modus operandi dieselfde – niksvermoedende slagoffers word glo na ‘n verlate huis in die Oakland-gebied geneem, waar hulle met ‘n vuurwapen gedreig, beroof en boonop geld uit hulle bankrekenings onttrek word.
Tydens die operasie het polisiebeamptes hulle as “verkopers” voorgedoen en ingestem om die verdagtes te ontmoet. Twee verdagtes wat die polisiebeamptes genader het, is in hegtenis geneem. Die ander vier verdagtes het in die geïdentifiseerde verlate huis weggekruip. Hulle het op die polisie geskiet, waarop teruggeskiet is. Die vier verdagtes het uit die huis in die rigting van ‘n treinspoor gevlug en het ontsnap.
Een van die verdagtes in aanhouding se huis is deur die polisie deursoek en ‘n rekenaarhardeskyf en ‘n skerm, sowel as ‘n iPhone, is teruggevind. Met die ondersoek is bevind die verdagtes verkoop glo die geroofde items in Durban.
Rhynes sê die ondersoek om die uitstaande verdagtes en meer gesteelde items op te spoor, is aan die gang. Die verdagtes sal aan ander soortgelyke sake gekoppel word.
Slagoffers wat onder soortgelyke slenters deurgeloop het, word gevra om sake oop te maak. Die klaers in bestaande sake word ook gevra om Marianhill-speurtak te bel.
Genl.maj. Makhosazana Victoria Kheswa, die distrikskommissaris, sê: “Ek is tevrede met die arrestasies tot dusver en verwag dat nog arrestasies binnekort sal volg.”







