NOORDWES. – Die polisie soek nog na verdagtes ná ’n gewelddadige plaasaanval Woensdagoggend op Donovan Marx, ’n 50-jarige boer op ’n plaas in Syferfontein, Ventersdorp. Drie gewapende mans het die plaaswerker oorval, hom met kabelbinders vasgebind en hom daarna aangertand, gesteek en geskiet. Die boer is in ’n ernstige toestand in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.
Volgens kapt. Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 08:30 begin toe die plaaswerker besig was om gras te sny. Die verdagtes, wie se gesigte met balaklawas bedek was, het agter die huis verskyn, vuurwapens op hom gerig en na die boer se verblyfplek gevra. Hulle het hom vasgebind en na die agterkant van die huis geneem.
Toe die boer met sy rooi enkelkajuit- Isuzu-bakkie opdaag, het twee van die verdagtes hom na bewering in die bolyf geskiet. Hulle het hom daarna die huis ingesleep, sy hande en voete vasgebind en hom verder gesteek en aangerand. Die verdagtes het drie vuurwapens uit ’n kluis gesteel en met sy bakkie gevlug.
Lt.genl. Arthur Peter Adams, provinsiale polisiekommissaris, het die aanval veroordeel en ’n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie te help om die verdagtes op te spoor. Enigiemand met inligting kan kaptein Bonita Dry, bevelvoerder van die Ventersdorp-speurtak, by 082 373 7781 bel.