KWAZULU-NATAL – Twee verdagtes is Saterdag in Upper Tugela in hegtenis geneem vir poging tot omkopery. Die verdagtes, onderskeidelik 36 en 39 jaar oud, het probeer om ’n polisiekaptein geld aan te bied om die vrylating van ’n familielid te bewerkstellig.
Lt.kol. Paul Magwaza sê in ‘n verklaring die familielid is Vrydag op aanklag van die besit van ’n onwettige AK-47-aanvalsgeweer en 13 koeëls in hegtenis geneem. Die verdagtes het volgens voorafreëlings die polisiekaptein by KwaDukuza Crossing ontmoet en R12 600 oorhandig. Die polisiekaptein het egter as deel van ‘n operasie kollegas strategies geplaas gehad, waarna die twee verdagtes onmiddellik in hegtenis geneem is.
Hulle is na Upper Tugela-polisiestasie geneem en van omkopery en korrupsie aangekla. Hulle sal na verwagting Dinsdag in die Bergville-landdroshof voorkom. Die familielid verskyn vandag op aanklagte van die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie in dieselfde hof.





