KWAZULU-NATAL. – AO Vincent Mkhize, verbonde aan die Umlazi- sigbare polisiëringseenheid, is in die Chatsworth-landdroshof tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die dood van Ayanda Gift Mikhize (25), sy seun. Die vonnis is egter in geheel vir vyf jaar opgeskort.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê Mkhize het sy seun op 28 Desember 2022 omstreeks 01:00 geskiet, nadat hy hom glo vir ‘n inbreker aangesien het wat by die veiligheidshek gepeuter het. Volgens Suping het Mkhize in die rigting van die vermeende indringer geskiet en eers besef dit was sy seun toe hy hom hoor skree.
Ayanda is na ‘n hospitaal geneem, maar het later aan sy beserings beswyk. Opod het die saak ondersoek, waarna Mkhize van moord aangekla is. Tydens ‘n interne dissiplinêre proses is hy beveel om berading te ontvang.
Die hof het verder gelas dat Mkhize vir twee jaar onder korrektiewe toesig geplaas word en verskeie rehabilitasieprogramme moet voltooi. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.





