VRYSTAAT. – Konst. Tiisetso Makhele (37) is Woensdagaand in hegtenis geneem en konst. Johannes Baardman (33) Vrydagoggend, nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Die twee polisiebeamptes word verbind met die dood van Nxamile Edward Funqu (38) toe hulle op 21 Maart ‘n klagte van selfoondiefstal ondersoek het.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê volgens die ondersoek het polisiebeamptes om ongeveer 21:00 op 21 Maart op ‘n klagte van selfoondiefstal gereageer. Hulle het glo drie mans naby ’n kerk in Bainsvlei aangetref en hulle daarvan beskuldig dat hulle ’n gesteelde selfoon wegsteek. Die mans het egter enige betrokkenheid ontken. Die polisiebeamptes het die drie mans na die polisiekantoor geneem waar hulle glo aangerand is.
Hulle is daarna terug na die toneel geneem en weer ondervra, maar hulle het steeds ontken dat hulle van die selfoon weet. Die mans is volgens rapportering herhaaldelik met stokke en vuiste geslaan voordat hulle weer na die polisiekantoor geneem is. Met hul aankoms by die polisiekantoor was Funqu glo bewegingloos agter op die bakkie en het geen tekens van lewe getoon nie. Twee van die mans is uit die voertuig gehaal, waarna die beamptes glo met die oorledene weggery het. Sy liggaam is die Maandag 23 Maart deur ’n verbyganger in die veld naby die kerk in Bainsvlei gevind.
Die twee polisiebeamptes het op die aanklagte van moord en aanranding in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 2 April uitgestel.





