NOORDWES. -Die polisiebestuur in Noordwes is bewus van beweringe van polisielede wat glo leerders by ‘n skool in die Mabeskraal-woonbuurt aan die buitewyke van Rustenburg aangerand het.
Brig. Sabata Mokgwabone sê die beweerde voorval het glo op Maandag 13 Mei plaasgevind. Volgens inligting het polisielede glo ‘n Safer School-bewusmakingsveldtog saam ander rolspelers by die skool bygewoon. Sommige leerders is glo na ‘n aparte klaskamer geneem en aangerand. Twee klagtes vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, is geregistreer.
Mokgwabone sê Opod ondersoek die beweerde voorval.
“Die polisiebestuur duld nie onprofessionele optrede deur sy lede nie en wil die publiek versoek om geduld aan die dag te lê en ondersoeke te laat ontvou.”





