KWAZULU-NATAL. – Twee verdagtes mans, insluitende ‘n polisieklerk, onderskeidelik 39 en 59 jaar, is op aanklagte van gewapende roof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen in Pietermaritzburg in hegtenis geneem.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Paul Magwaza, het die voorval op 1 Februarie in die Slangspruit-omgewing plaasgevind waar ’n man glo van sy vuurwapen beroof is deur iemand wat aan hom bekend is. ’n Saak is by Alexandra Road-polisiekantoor aangemeld. Blitspatrolliebeamptes het later inligting ontvang oor die verdagte wat hom in Sweetwaters bevind.
Hy is aangekeer en sy eie gelisensieerde vuurwapen, wat na bewering in die roof gebruik is, is in beslag geneem. Die verdagte het glo aan polisie gesê hy het die geroofde wapen aan ’n vriend gegee om dit vir hom te hou. Beamptes is daarna na die Pietermaritzburg-sakesentrum en die betrokke vuurwapen is by die vriend teruggekry. Die vriend, wat as polisieklerk werk, is ook in hegtenis geneem.
Albei mans verskyn vandag (Vrydag) in die Pietermaritzburg-landdroshof.





