VRYSTAAT – ’n Polisiekonstabel (25) van die Bethlehem-misdaadvoorkomingseenheid wat op ‘n aanklag van verkragting teregstaan, is deur die Bethlehem-landdroshof op borgtog van R1 500 vrygelaat. Die konstabel het glo ‘n student (23) van die Tshwane-Universitet van Tegnologie (TUT) verkrag.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerer, sê die voorval het glo op 22 Februarie plaasgevind toe die konstabel die student by haar woonplek gaan haal het. Hy het haar glo eers na ’n park in Morelig Park geneem, waar hy haar gevra het om saam met hom te slaap. Toe sy weier, het hy haar na ’n plaaslike begraafplaas geneem en haar glo daar verkrag.
Die klaer het dieselfde dag ’n saak oopgemaak en die konstabel is van verkragting aangekla. Die hof het die saak vir verdere ondersoek tot 25 April uitgestel.





