KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisiekonstabel het na bewering Saterdagoggend vroeg in die Machuwini-gebied, in die Harry Gwala-distrik, eers op ‘n insleepdiensbestuurder, kollegas en ‘n gemeenskapslid gevuur, voordat hy homself doodgeskiet het. Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur.
Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, sê twee sersante en die konstabel, verbonde aan die Taktiese Reaksie-eenheid van die Vrystaat, was onderweg van hul ontplooiing in die Oos-Kaap terug na die Vrystaat, toe hulle glo ‘n padteken by padwerke gemis en teen ‘n versperring gebots het. Twee gemeenskapslede het ‘n ambulans en insleepvoertuig van die toneel af gebel. Die konstabel het na bewering uit die voertuig geklim en op die insleepvoertuig-bestuurder begin skiet. Toe een van sy kollegas ingryp om te help, het die konstabel glo op hom en op nog ’n gemeenskapslid geskiet. Die konstabel het daarna glo die vuurwapen op homself gerig.
Die konstabel en die bestuurder van die insleepvoertuig is op die toneel dood verklaar. Die sersant en die ander man is na ‘n hositaal gehaas. ‘n Derde polisiebeampte het die voorval oorleef.
Volgens Netshiunda vorm die motief vir die skietery deel van die polisie se ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





