GQEBERHA, OOS-KAAP. – Konst. Elroy May (39) van die teen-bende-eenheid het Saterdagaand tydens gietende reën in díe provinsie in ‘n motorongeluk op die R75-Despatchpad gesterf.
Kol. Priscilla Naidu sê May was ‘n passasier in die staatsvoertuig wat weens die gietende reën en die nat padoppervlak gerol het. Die bestuurder van die staatsvoertuig het volgens ‘n ooggetuie beheer oor die voertuig verloor. Die voertuig met insittendes het glo tot teen die wal gerol waar dit op sy dak tot stilstand gekom het. May is op die ongelukstoneel oorlede.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene het polisielede en ander motoriste gemaan om versigtig op die nat paaie te bestuur.
“Oor die afgelope paar dae het swaar reën en oorstromings aansienlike ontwrigting en skade oor verskeie areas veroorsaak. Ons, die SAPD, betuig ons innige meegevoel met die beampte se familie, vriende en kollegas.”
“Indien moontlik, bly asseblief tuis en vermy reis tensy dit absoluut noodsaaklik is. Die paaie in baie areas is oorstroom en verspoel en hou dus ‘n wesenlike gevaar vir bestuurders in. Die veiligheid van ons gemeenskap is ons topprioriteit. Ons werk onverpoosd saam met Rampbestuur by die munisipaliteite om die situasie te monitor en hulp te verleen waar nodig. As jy moet reis, wees asseblief waaksaam en bewus van jou omgewing. Moenie probeer om deur oorstroomde gebiede te ry nie, aangesien die diepte en sterkte van die water misleidend en potensieel lewensgevaarlik kan wees.”





