LIMPOPO. – ‘n Polisiesersant (44), wat as hofordonnans by die Northam-polisiekantoor werksaam is, moet op 31 Julie op aanklagte van korrupsie en die hulpverlening met die ontsnapping van ‘n vroulike gevangene in die Northam-landdroshof verskyn.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die saak spruit uit ‘n voorval op 30 Oktober 2023 toe gevangenes ná ‘n hofverskyning na die Northam-polisiekantoor teruggeneem is. Twee bevelvoerders het tydens ‘n roetine-inspeksie opgemerk dat ‘n buitelandse vroulike gevangene, wat gedeporteer sou word, nie terug in die selle ingeboek is nie. Volgens Ledwaba is die sersant, wat in daardie stadium nie by die polisiestasie was nie, gekontak. Hy het aangedui dat hy op pad na die stasie was, maar het die volgende dag nie vir diens aangemeld nie. Die vrou is later in 2023 opgespoor en weer in hegtenis geneem. Tydens die ondersoek het inligting na vore gekom dat ‘n groot som geld glo aan die 44-jarige hofordonnans betaal is om haar vrylating te bewerkstellig.
Die saak is na die provinsiale teenkorrupsie-eenheid verwys. Nadat die ondersoek afgehandel is, is die dossier aan die senior staatsaanklaer voorgelê, wat gelas het dat die sersant vervolg word. Die sersant is Vrydag 3 Julie met ‘n dagvaarding bedien om in die hof te verskyn.





