OOS-LONDEN, OOS-KAAP. – Sers. Sinethemba Msutu (36), verbonde aan Cambridge-polisie, se liggaam is Saterdagmiddag tussen rotse by West Bank-strand gevind.
Kol. Priscilla Naidu sê die sersant was na bewering op Donderdag 30 Mei met sy privaat voertuig in ‘n ongeluk betrokke en was by ‘n privaat hospitaal vir behandeling. Hy is dieselfde aand deur ‘n kollega gehaal en by die enkelkwartiere afgelaai. Op Vrydag 31 Mei omstreeks 09:30 is ‘n brand in die sersant se kamer gerapporteer. Hy was nie ten tyde van die brand daar nie. ‘n Verslag van ‘n vermiste persoon is Vrydag vir die sersant oopgemaak.
Saterdagmiddag omstreeks 14:00 is sy liggaam deur ‘n visserman opgemerk.
Naidu sê ‘n geregtelike doodsondersoek is geregistreer om die oorsaak van dood te kan vasstel.





