LIMPOPO. – ‘n Polisiesersant wat by die Mecklenburg-polisiekantoor gestasioneer was, het glo Sondag ‘n 32-jarige man doodgeskiet. Die beampte het na bewering daarna ‘n 14-jarige meisie by sy woning verkrag en homself daarna met sy dienswapen doodgeskiet.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 15:30 op ‘n klagte van ‘n skietery gereageer. Die 32-jarige man is met skietwonde op die grond aangetref. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Die sersant het glo die man in ‘n pad teëgekom en ná ’n woordewisseling op hom geskiet en die toneel verlaat. Hy het daarna glo na sy woning in Ga-Masha gery saam met die 14-jarige meisie wat hom vergesel het. Die meisie is volgens voorlopige inligting glo by die woning verkrag. Die beampte het kort daarna glo sy dienswapen geneem en homself geskiet.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is in kennis gestel en sal die ondersoek verder hanteer. Sake van moord en verkragting, asook ’n geregtelike doodsondersoek, word deur die polisie behartig.