MPUMALANGA. – ‘n Polisiesersant (46) verbonde aan Morgenzon-polisiestasie KDS, die eienaar van ‘n taverne (42), ‘n vroulike verdagte (23) en ‘n Mosambiekse burger (39) is Vrydag vir die beweerde besit van ongelisensieerde vuurwapens in hegtenis geneem. ‘n Verdere klagte van diefstal van ‘n vuurwapen is teen die polisielid bygevoeg.
Volgens brig. Selvy Mohlala is ‘n ondersoek geloods nadat ‘n vuurwapen van die polisiestasie tussen 16 en 17 Desember gesteel is. Met die nagaan van voorraad is ontdek die wapen is weg.
Tydens ‘n ondersoek is bevind die wapen, ‘n 9 mm-pistool, is na bewering deur ‘n lid op nagskof in die KDS gesteel. Daarna is die wapen glo deur die polisielid aan die taverne-eienaar verkoop.
‘n Deursoekingslasbrief is bekom en ‘n operasie by verskeie huise uitgevoer. Verskeie wapens, wat ‘n haelgeweer, twee pistole (waarvan een vermoedelik by Morgenzon-polisiestasie gesteel is) en ‘n R5-geweer met ammunisie is gevind en op beslag gelê.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Mohlala sê die departement van binnelandse sake sal die status van die Mosambieker nagaan.
Bron: SAPD