KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisievrou het Sondagaand tydens ‘n taktiese insident die situasie mis gelees toe sy gedink het sy en haar kollegas word aangeval. Sy het met ‘n R5 geskiet en ‘n kollega noodlottig getref en nog een gewond.
Kamogelo Mogotsi, woordvoerder vir Senzo Mchunu, die polisieminister, sê hy het simpatie met die beamptes wat in die tragiese insident betrokke was se families, vriende en kollegas uitgespreek.
“Agt polisielede van Openbare Orde Polisiëring (OOP) en Port Shepstone se K-9-eenheid was besig met ‘n operasie oor ‘n klagte van gesinsgeweld. ‘n Taktiese maneuver is uitgevoer waar ‘n skokgranaat in een van die kamers ontplooi is. Tragies genoeg het ‘n waninterpretasie van die situasie ‘n vroulike offisier laat glo dat haar span onder aanval was, wat haar ‘n R-5-geweer laat afvuur het, wat gelei het tot die dood van ‘n kollega en beserings aan ‘n ander.”
‘n Lid van OOP is dood en ‘n lid van die K-9-eenheid is beseer. Die insident word deur die polisiewaghond, die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, ondersoek.
“Ons doen ‘n beroep op OPOD om hul navrae te bespoeding om so gou moontlik duidelikheid en afsluiting aan alle geaffekteerde partye te verskaf. Hierdie ondersoek is noodsaaklik om aanspreeklikheid te verseker en om waardevolle lesse te leer om soortgelyke tragedies in die toekoms te voorkom. Ons doen ‘n beroep op alle wetstoepassingspanne om uiters versigtig in die beplanning en die uitvoering van operasies, veral dié wat hoërisiko-situasies behels, te wees. Dit is noodsaaklik om protokol te versterk, duidelike kommunikasie te verseker en die hoogste standaarde van veiligheid te gebruik om beide ons beamptes en die gemeenskappe wat hulle dien te beskerm,” sê Mchunu.
Die minister sê voorts daar word spesiaal aan die familie van die lid wat sy lewe verloor het gedink en gebid vir die lid wat beserings opgedoen het: “Ons bly daartoe verbind om diegene te ondersteun wat deur hierdie tragedie geraak word en sal alles moontlik doen om te verseker dat sulke voorvalle in die toekoms voorkom word.”





