LIMPOPO. – ’n Luukse swart Porsche Cayenne, wat as gesteel aangemeld is, is Woensdag uitmekaargehaal by ’n werkswinkel in Nirvana, Polokwane, aangetref. Drie verdagtes, insluitend die eienaar van die werkswinkel, is in hegtenis geneem.
Volgens die polisie is inligting oor beweerde verdagte bedrywighede by ’n werkswinkel in Nelson Mandelarylaan, Nirvana, ontvang, waarop ‘n operasie deur verskeie rolspelers uitgevoer is. Met aankoms by die werkswinkel is die Porsche-onderdele in die agterplaas van die werkswinkel gekry.
’n Voorlopige ondersoek het bevestig dat die voertuig in Mei 2025 in die Zebediela-polisiëringsgebied gesteel is. ’n Verdere soektog op die perseel het tot die herwinning van ’n tweede voertuig, ’n wit Toyota Tazz, wat in Oktober 2024 in die Seshego-polisiëringsgebied as gesteel aangemeld is, gelei.
Drie mans, tussen 35 en 49, is in hegtenis geneem. ’n Saak van besit van vermoedelik gesteelde motorvoertuie is by die Westernburg-polisiekantoor geopen. Onder die verdagtes is ’n 49-jarige buitelandse burger, die eienaar van die werkswinkel, wat glo ook onwettig in die land is. ’n Addisionele aanklag vir die oortreding van die immigrasiewet sal teen hom gevoeg word.
Die verdagtes sal na verwagting vandag op aanklagte in die Polokwane-landdroshof verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





