OOS-KAAP. – Agt verdagtes, tussen die ouderdomme van 43 en 71 jaar, wat onderskeidelik by die premierskantoor gewerk en maatskappydirekteure is, is Maandag in Gauteng in hegtenis geneem. Die verdagtes staan op aanklagte van beweerde bedrog van meer as R20 miljoen in die Oos-Kaap tereg.
Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke in die Oos-Kaap, sê die agt verdagtes is hooggeplaaste amptenare en maatskappydirekteure. Klagtes van onder meer beweerde bedrog, vervalsing, uttering en geldwassery word teen die verdagtes ondersoek.
Na bewering het die departement van onderwys hulp met noodverkryging van 72 tydelike klaskamers en meubels vir Gqeberha en Uitenhage van die premierskantoor gevra.
‘n Maatskappy is vir die tender van R20 miljoen aangestel. Inligting is ontvang oor senior beamptes wat met onbehoorlike verkrygingsprosedure tydens die aanstelling van die maatskappy geïmpliseer is. Daar word verder beweer die maatskappy wat aangestel is, is aan senior amptenare van die premierskantoor verbind. Die klaskamers was glo nie afgehandel nie en die geld was uitgeput.
Die saak is na die Valke verwys waarna die agt verdagtes Maandag in hegtenis geneem is. Hulle sal vandag in die Zwetlitsha-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.
Bron: SAPD Valke Oos-Kaap
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





