GAUTENG. – President Cyril Ramaphosa het dr. Nobuhle Nkabane uit haar pos as minister van hoër onderwys en opleiding verwyder en mnr. Buti Kgwaridi Manamela in haar plek aangestel. Dr. Nomusa Dube-Ncube sal die pos as adjunkminister vul.
Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, sê in ‘n verklaring die skorsing is ingevolge artikel 91(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en die aanstelling in gevolge artikel 93(b) van die Grondwet toegepas. Mnr. Manamela het die pos as adjunk sedert die sesde administrsie beklee. Dr. Dube se uitgebreide ervaring in regeringsleierskap sluit onder meer haar rol as LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) en premier van KwaZulu-Natal in.
Artikel 93(b) van die Grondwet verleen aan die president die bevoegdheid om nie meer as twee adjunkministers van buite die vergadering aan te stel nie.
Volgens Magwenya is die aanstellings amptelik deur die presidensie bevestig.





