GAUTENG. – Nadat ‘n rasherrie by Pretoria Girls High uitgebreek het, is Dinsdag bevestig die skoolhoof is as voorsorgmaatreël, hangende ‘n ondersoek, vir 90 dae geskors.
Steve Mabona, woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê die skool is Dinsdag deur Matome Chiloane, die LUR in Gauteng vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, besoek.
Dit volg nadat beweringe van vermoedelike rassisme gemaak is. 12 leerders wat glo by die beweringe betrokke is, is ook geskors.
Die skorsing is vanweë beweringe van leerders dat die skoolhoof glo nie aan klagtes gehoor gee nie.
Mabona sê die distrik het intussen ‘n onderhoof by die skool as waarnemende hoof aangestel totdat die ondersoek afgehandel is.
Die skoolbeheerliggaam sal met dissiplinêre prosesse voortgaan en die uitkoms met die departement deel. Die klem is tans daarop om die betrokke leerders deur die eksamen te ondersteun.
“Matthew Goniwe Skool vir Leierskap en Bestuur sal die departement met ‘n program vir diversiteit en sosiale samehorigheid bystaan, wat gereeld gemonitor sal word om die doeltreffendheid daarvan te verseker.”
“Ons moedig leerders en onderwysers aan om nie moeg te word om enige swak dissipline of oortredings teen skoolgedragskodes aan te meld nie. Ouers word aangemoedig om enige bewering van mishandeling vir nodige ingryping by die distrik aan te meld. Opvoeders moet bystand verleen om leerders in ons skoolomgewings te ontwikkel. Ons doen ‘n beroep op aktiviste om nie buite die skool bymekaar te kom nie en leerders tydens die eksamen toe te laat om op hul akademie te fokus,” sê Chiloane.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Pretoria High School for Girls het 12 leerders weens beweerde rassisme by die skool geskors.
Steve Mabone, woordvoerder vir die departement van onderwys, sê volgens inligting is die Tshwane-Suid-distrik op 18 Julie van ‘n beplande protesaksie vir die volgende dag ingelig.
“Die rede was beweerde rassekonnotasies, mikro-aggressie en klagtes oor swart leerders wat deur wit leerders op ‘n WhatsApp-groep geuiter is.”
Mabone sê die beweerde gesprekke op die WhatsApp-groep het glo rassekommentaar bevat oor voortdurende ontevredenheid van swart leerders oor kwessies by die skool. Kommentaar oor die hare-protes deur swart leerders wat glo in 2016 by die skool plaasgevind het, is ook in die groepklets gemaak.
“‘n Dringende vergadering is op dieselfde dag as die beplande betoging gefasiliteer, en gegriefde leerders is die geleentheid gebied om hul griewe uit te spreek.”
Mabona sê die griewe het die volgende ingesluit: “Beweerde rassisme en ‘n WhatsApp-groep geskep deur, en bestaande uit, slegs wit leerders waar beweerde rasse-mikro-aggressies oor ander leerders oorgedra is. Beweerde herhaalde gevalle van rassisme met min tot geen optrede deur die skoolhoof. Beweerde nie-reaksie deur die skoolhoof in die aanspreek van aangemelde gevalle van rassisme. Beweerde boelievoorvalle word nie deur die skoolbestuurspan aangespreek nie. Beweerde voorkeurbehandeling van wit leerders deur die skoolhoof en sommige personeellede. Beweerde selektiewe toepassing van die skoolgedragskode, met strenger behandeling vir swart leerders in vergelyking met wit leerders.
“Gevolglik het die Skoolbeheerliggaam (SBL) alle geïmpliseerde leerders onmiddellik geskors, en hul dissiplinêre verhoor sal op 30 en 31 Julie 2024 plaasvind.”
Die distrik het ‘n ondersoek na alle beweringe en veral dié wat teen die skool se werknemers gemaak is, geloods.
“’n Skoolomgewing waar rassisme en diskriminasie algemeen voorkom, hetsy geheimsinnig of subtiel, kompromitteer die reg op onderwys in ’n veilige en billike omgewing vir alle leerders. Daar moet inderdaad opgetree word teen enige gedrag wat orde en dissipline by ons instellings bedreig, veral gedrag wat die waardigheid van leerders ondermyn. Ons sal voortgaan om die situasie fyn dop te hou,” sê Matome Chiloane, LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning in Gauteng.





