Privaatvervolgingseenheid help familie ná noodlottige botsing

Lees ook :

Foto's: AfriForum Privaatvervolgingseenheid

WES-KAAP. – AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan die familie van David Golding (27) by, nadat hy op 16 Junie in ‘n botsing in Ou Kaapse Weg gesterf het.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê die familie het die eenheid genader uit kommer dat sake van strafbare manslag ná padongelukke nie altyd die nodige prioriteit geniet nie. Volgens AfriForum is Golding dood nadat sy voertuig na bewering deur ‘n bakkie getref is wat deur Richard Tinsley bestuur is. Daar word beweer Tinsley was onder die invloed van alkohol toe die botsing plaasgevind het. Golding was glo op pad huis toe toe die botsing plaasgevind het. Hy is op die toneel dood verklaar, terwyl Tinsley die botsing oorleef het en in ‘n hospitaal behandel is.

Die eenheid sê beskikbare getuienis, waaronder beeldmateriaal en ooggetuieverslae, dui daarop dat Tinsley vroeër die dag by verskeie restaurante en kroeë alkohol gebruik het. AfriForum sê die eenheid sal die ondersoek ondersteun om te help verseker dat geregtigheid geskied.

Lees die volledige verklaring deur die AfriForum se privaatvervolgingseenheid hier onder:

AfriForum se privaatvervolgingseenheid eis geregtigheid vir familie ná noodlottige ongeluk op Ou Kaapse Weg

Nog ’n sinnelose dood en kommer oor die polisie se volgehoue versuim om sake van strafbare manslag in padongelukke behoorlik te ondersoek, het ’n familie wat in rou gedompel is genoop om AfriForum se privaatvervolgingseenheid te nader. David Golding (27) het op 16 Junie aan sy beserings beswyk nadat sy voertuig op Ou Kaapse Weg deur ’n bakkie getref is wat deur Richard Tinsley bestuur is. Tinsley was na bewering onder die invloed van alkohol ten tyde van die voorval. David is op die toneel dood, terwyl Tinsley oorleef het en in die hospitaal behandel is.

Volgens die beskikbare getuienis het Tinsley na bewering laatmiddag begin drink en tussen verskillende kroeë en restaurante beweeg waar hy alkohol gedrink het. Beeldmateriaal en verskeie ooggetuies, insluitend personeel en klante van die kroeë en restaurante wat Tinsley besoek het, blyk die omvang van sy drankgebruik, sy gedrag en sy oënskynlike toestand van dronkenskap te bevestig. Daar word beweer dat hy teen die tyd wat hy die laaste kuierplek laat daardie aand verlaat het, reeds verskeie drankies gedrink het.

David was omstreeks dieselfde tyd op pad huis toe nadat hy die aand saam met vriende deurgebring het en was van plan om iets te ete te kry voordat hy huis toe sou gaan. Die beskikbare inligting dui daarop dat hy op pad huis toe was toe Tinsley, nadat hy die laaste drinkplek verlaat het, op Ou Kaapse Weg met hom gebots het. David moes deur noodpersoneel uit sy voertuig bevry word en is later op die toneel dood verklaar. Tinsley is na die hospitaal geneem, waar hy glo ’n operasie ondergaan het.

Hoewel adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, erkenning gee aan die deeglike werk wat die ondersoekers by die Vishoek-polisiestasie tot dusver gedoen het, sê hy dit het toenemend duidelik geword dat ondersoeke en vervolgings in sake van strafbare manslag dikwels nie die prioriteit geniet wat dit verdien nie. “Vertragings met die verkryging van relevante getuienis verleng nie net die ondersoek nie, maar skep ook die risiko dat ooggetuies se herinneringe vervaag. Dit lei dikwels daartoe dat sake van die rol geskrap word of glad nie vervolg word nie. Daarom het AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingetree om te verseker dat hierdie saak vervolg word,” sê Nel.

David se ouers, verteenwoordig deur sy stiefpa, Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, sê hy het die eenheid genader om te verseker dat geregtigheid geskied. “Nie net vir my seun, David, nie, maar ook vir enige ander onskuldige slagoffer wat moontlik dieselfde tragedie te beurt kan val as wat my familie getref het. Ek sou die smart waardeur ons gaan nie aan my grootste vyand toewens nie.”

Nel beklemtoon dat dit die strafregstelsel se plig is om sake soos hierdie beslissend te hanteer en die samelewing teen sinnelose sterftes te beskerm wat deur roekelose en dronk bestuurders veroorsaak word. “Dit is belangrik dat hierdie saak deeglik ondersoek word, aangesien dit die polisiediens se plig teenoor die samelewing is om besope bestuurders aan die pen te laat ry en sodoende ander onskuldige padgebruikers teen ’n soortgelyke lot te beskerm,” sluit Nel af.

Die eenheid het sy ondersteuning, asook die familie se volle ondersteuning, in die ondersoek aangebied om te verseker dat geregtigheid geskied.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief