OOS-KAAP. – Masixole Bangiso (41) van Msixole Bangiso Prokureurs het Maandag in die Oos-Londen-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn nadat hy die oggend deur die Valke gearresteer is. Die saak spruit uit bewerings dat Bangiso fondse van die padongelukkefonds (POF) verkeerdelik gebruik het.
Kapt. Yolisa Mgolodela het verduidelik dat die klaagster op 18 April 2021 as passasier in ’n bakkie in ’n ongeluk in Fitz Patrickstraat betrokke was en vyf weke in Frere-hospitaal opgeneem is. Ná haar ontslag het sy Bangiso se firma genader om ’n eis in te dien. Sy is deur Bangiso na ‘n spesialis geneem om haar beserings te bewys en het daarna R550 000 van die RAF geëis. Bangiso het volgens haar die bedrag as “redelik” geag.
In Junie 2023 het die klaagster gehoor haar eis sou teen Desember 2023 uitbetaal word, maar dit het nooit gebeur nie. In Januarie 2024 het sy Bangiso gekontak omdat sy die geld nodig gehad het. Bangiso het na bewering bevestig dat die geld na sy trustrekening oorbetaal is, maar dit nie aan haar oorbetaal nie.
“Bangiso het versuim om die fondse na die klaagster se rekening oor te plaas en het aanhoudend verskonings aangebied,” het Mgolodela gesê.
’n Ondersoek deur die Regspraktykraad het egter bevestig dat die R550 000 reeds op 3 Januarie 2024 in Bangiso se trustrekening betaal is. Later het hy R500 000 aan die klaagster oorbetaal, maar die Valke het bevind dat dit afkomstig was van ’n ander kliënt se POF-uitbetaling.
“Die Padongelukkefonds is dus tydens hierdie twee transaksies met kontant ter waarde van meer as R1 miljoen benadeel,” het Mgolodela bevestig.
Bangiso is op 9 September 2024 gearresteer, maar is daarna op borg van R4 000 vrygelaat. Die saak word verder ondersoek en kom weer op 11 Oktober in die hof voor.





