Publiek kan nou honde vir polisiewerk in Vrystaat skenk

Lees ook :

Foto: SAPD

VRYSTAAT. – Die polisie in die Vrystaat doen ‘n beroep op die publiek om geskikte honde te skenk wat die doeltreffendheid van die honde-eenhede in die provinsie sal verbeter.

Volgens kapt. Loraine Earle sal hierdie skenkings die kapasiteit van die polisie verhoog om misdaad te bekamp, insluitend misdaadopsporing, wetstoepassing, en die bestryding van wildsmokkelary.

“Polisiehonde word gebruik om beide proaktiewe en reaktiewe dienste in die SAPD te lewer. Hulle word ontplooi vir die opspoor van narkotika, plofstof, beskermde spesies, biologiese liggaamsvloeistowwe, geldeenhede, karkas en vel, sowel as die bymekaarmaak van skape tydens veediefstalondersoeke, opsporing en aankeer van gevaarlike verdagtes, brandondersoeke, sowel as soek-enreddingsoperasies.”

Die volgende rasse kan geskenk word: Duitse en Belgiese herdershonde, labradors, bloedhonde, rottweilers, Golden Retrievers, Duitse korthaarpointers en Jack Russells. Die honde moet tussen nege maande en drie jaar oud wees. Kruisrasse sal alleenlik aanvaar word indien daar aan die polisie se vereistes voldoen word. Die honde moet ook energiek wees en nie bang vir mense of harde geluide wees nie. Hulle moet aan ‘n leiband kan loop en ‘n sterk maar gematigde temperament hê.

Indien jy ‘n hond het wat jy wil skenk, kan jy 051 412 6678 of 082 565 9674 tussen 08:00 en 16:00 bel. Alternatiewelik kan ‘n e-pos na MalefaneML@saps.gov.za gestuur word. Lt.kol. Smith van Bloemfontein se honde-eenheid kan by 082 821 0195, of lt.kol. Nocqado van Welkom se honde-eenheid by 082 041 3079 gebel word.

“‘n Afspraak sal dan gemaak word om die hond by die skenker se huis te assesseer om vas te stel of die hond geskik is. Indien wel, sal ’n kontrak geteken word. Honde word onvoorwaardelik aan die SAPD geskenk.”

Potensieel geskikte honde wat aanvaar word, sal dan by die polisie se K9 Roodeplaat-hondeskool in Pretoria deur die polisie se veeartse ondersoek, ingeënt en met ‘n mikroskyfie gemerk word. Hierna volg 21 dae in kwarantyn.

“Daarna sal die honde gesosialiseer word en aan ‘n vooropleidingsprogram onderwerp word. Hulle sal deur ‘n paneel kundiges beoordeel word om geskiktheid vir die polisie se opleidingsdoeleindes te bepaal.”

Die opgeleide honde sal operasioneel as patrollie- of snuffelhonde ontplooi word.

“Daar is in die Vrystaat ‘n behoefte vir polisiehonde vir biologiese opsporing, brandopsporing, soek-en-redding, patrollies, spoorsny, narkotika, plofstof en bedreigde- en beskermde spesies.”

Earle sê die omvang van vrygewigheid en bystand van die publiek sal die sleutelfaktor wees om die sukses van hierdie skenkingsveldtog te bepaal.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App