GAUTENG. – Die saak teen Julius Mkhwanazi, Kgomotso Makhubu, Kersha Stoltz en Adrian McKenzie, oor aanklagte van beweerde diefstal van edelstene ter waarde van ongeveer R15 miljoen, is tot 18 September in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.
Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder, sê die saak is uitgestel sodat die verdediging toegang tot die dossier kan kry. Die vier verdagtes is in Julie in hegtenis geneem. Daar word beweer dat die verdagtes in 2023 ’n eiendom in Killarney, Johannesburg, sonder ’n lasbrief binnegegaan en op edelstene ter waarde van ongeveer R15 miljoen beslag gelê het. Die vier is in Julie op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.
Nuusflits het voorheen berig die ondersoek het aanvanklik ses verdagtes betrek. Drie was lede van die Ekurhuleni-metropolisie, een was ‘n lid van die Gautengse verkeerspolisie, een van die Johannesburgse metropolisie en die sesde was ‘n sakeman wat hom tydens die klopjag glo as ‘n polisiebeampte voorgedoen het. Die sakeman is sedertdien oorlede. Opod beweer die EMPD-beamptes het buite hul regsgebied opgetree en nie die edelstene volgens die voorgeskrewe prosedures by die polisie in die SAPD 10–voorvalleboek geregistreer nie. Van die edelstene is glo later in die voertuig van een van die EMPD-beamptes aangetref. Die Gautengse verkeersbeampte en die JMPD-beampte het volgens Opod ook geen bevoegdheid gehad om so ‘n strafregtelike ondersoek uit te voer nie.