Lees ook: ANC-raadslid beskuldig van verkragting geskors
Tebogo Sepale (43), ‘n raadslid van Matlosana- plaaslike munisipaliteit in Noordwes, wat van statutêre verkragting op tienerseuns beskuldig word, het sy borgtogaansoek laat vaar, waarna die saak vir verdere ondersoek tot 24 Augustus 2023 uitgestel is.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG in Noordwes, sê die beweerde beskuldigde het na konsultasie met prokureurs besluit om nie vir borg aansoek te doen nie.
Die staat wag vir die ondersoek om ter voorbereiding vir verhoor nog moontlike klagtes by te voeg.
Sepale staan op 11 voorlopige aanklagte, wat twee statutêre verkragtings, drie klagtes vir skending van ‘n kind met toestemming, een klagte vir vervaardiging van pornografiese materiaal, vier klagtes vir verkragting en een klagte van seksuele intimidasie insluit, tereg.
Die hofsaak spruit voort uit ‘n verslag deur die Klerksdorp-polisie se GKS-eenheid wat ‘n saak van crimen injuria en twee aparte klagtes van statutêre verkragting ondersoek het, nadat die klagtes afsonderlik by die Kanana-polisie aangemeld is.
In een van die sake het die beweerde verdagte glo ‘n naakfoto met die klaer gedeel. In die tweede en afsonderlike saak met dieselfde geïmpliseerde verdagte is twee aanklagte van statutêre verkragting op Saterdag 6 Mei 2023 deur twee seuns, onderskeidelik 15 en 17, se ouers aanhangig gemaak.
Die beweerde verdagte sal tot sy volgende hofverskyning in aanhouding bly.