OOS-KAAP. – ’n Vroulike politieke raadslid (37) en ’n mede-beskuldigde (34) het Donderdag in die Dimbaza-landdroshof verskyn nadat ‘n sakeman (42) glo op 10 Junie uit sy hardewarewinkel ontvoer is.
Lt.kol. Avele Fumba, woordvoerder vir die Valke, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits ‘n ondersoek is deur die eenheid se taakspan vir ernstige georganiseerde misdaadondersoeke in Oos-Londen uitgevoer. Die sakeman is na bewering deur ‘n verdagte in sy eie voertuig gedwing, waarna met hom weggejaag is. Die Valke, met ondersteuning van die blitspatrollie en honde-eenheid, het inligting ontvang en die voertuig opgespoor. ‘n Verdagte is tydens ’n taktiese operasie in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het tot die inhegtenisneming van die raadslid gelei, wat glo gehelp het met die verdagte se beweerde poging tot ontsnapping.
Die vroulike raadslid is aangekla en het Donderdag saam met ‘n mede-beskuldigde in die Dimbaza-landdroshof verskyn. Sy is op R2 000 borgtog vrygelaat, terwyl die man in aanhouding bly en op 19 Junie weer vir ‘n formele borgtogaansoek in die hof sal voorkom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





