WES-KAAP. – Verkeersbeamptes in samewerking met die DBV en ander owerhede het Vrydag ‘n deursoekingslasbrief by ‘n sogenaamde “diereskuiling” in Retreat uitgevoer waar 21 honde, een kat en verskeie visse onder swak toestande gevind is.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuritet en DA-raadslid, sê in ‘n sosialemediaplasing die diere is aan verwaarlosing, wreedheid en mishandeling onderwerp. Die verdagte het voorgegee dat die perseel ‘n nie-winsgewende diereskuiling is, maar is betrap terwyl hy ongeregistreerde veeartsenyprosedures uitgevoer het. Die verdagte het probeer vlug, maar is uiteindelik in Scarborough opgespoor en in hegtenis geneem.
Bykomend tot die aanklagte ingevolge die dierebeskermingswet en die Stad Kaapstad se verordeninge, sal die verdagte ook van dwelmbesit aangekla word, nadat Mandrax-tablette en tik op die perseel gevind is.
Die verdagte is vir verdere ondersoek en regsprosesse aan die Kirstenhof-polisie oorhandig.
Insp. Jaco Pieterse van die Cape of Good Hope DBV sê navorsing moet gedoen word voordat ‘n inidvidu wat “diere red” ondersteun word. Verskeie klagtes is in verband met K9 Patrol Pet Army, wat as ‘n nie-winsgewende organisasie bedryf word, ontvang. Met inspekteurs wat voorheen toegang tot die perseel in Kirstenhof geweier is, kon hulle met die nuwe klagte en beeldmateriaal ‘n lasbrief van die Wynberg-landdroshof bekom.
Jamie Pieterse is ook voorheen vir dierewreedheid gearresteer. Die saak word steeds in die hof verhoor.
Pieterse sê die diere is van die perseel verwyder en ‘n verdagte is in hegtenis geneem, waarna ‘n tweede verdagte later gearresteer is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com