WES-KAAP. – Johan Jacobus Williams (52), ‘n reeksmoordenaar en -verkragter is deur die hooggeregshof op 19 aanklagte skuldig bevind. Hy is tot agt keer lewenslank en 60 jaar addisionele direkte tronkstraf gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Williams is aan ‘n vlaag brutale geslagsgebaseerde geweldsmisdade en vrouemoord skuldig. Desperate jong vroue is met belowende geleenthede van werk gelok, net om verkrag, vermoor en in vlak grafte te eindig.
Williams is op 19 Februarie op ses aanklagte van ontvoering, vyf verkragtings, drie moorde en huisbraak met die doel om brandstigting te pleeg, brandstigting, aanranding met die doel om ernstig te beseer en versuim om aan ‘n beskermingsbevel te voldoen, skuldig bevind.
Ntabazalila sê Williams se misdaadtog het tussen 2012 en 2018 in Wellington voortgeduur. Natalie Jonkers, Maria Isaacs en Chantelle Matthyssen was sy slagoffers. Nadat die vroue in vlak grafte gelê het, het hy selfoonboodskappe van hulle fone na hulle families gestuur en hulle doelbewus met inligting mislei.
Die veroordeelde het sy gewese meisie en haar twee minderjarige kinders ontvoer en haar herhaaldelik verkrag. ‘n Beskermingsbevel wat sy teen hom uitgeneem het, is verontagsaam.
“Hy het ook families van sy slagoffers geterroriseer deur hul eiendom te beskadig of te verbrand.”
Williams het onskuldig gepleit en dit deurentyd probeer handhaaf. Hy het wel die vroue se grafte aan die polisie uitgewys en gesê die vroue is toevallig laaste in sy geselskap gesien.
Adv. Maria Marshall het hom as ‘n gevaar vir die gemeenskap bestempel.
Regter Rosheni Alie het tydens vonnisoplegging gesê die gemeenskap moet teen persone soos Williams beskerm word.
Adv. Nicolette Bell het adv. Marshall en sers. Van Rooyen, die ondersoekbeampte, met die suksesvolle afhandeling van die saak geprys. Die families van die oorledenes is ook vir hulle braafheid geloof.
Foto NVG: Adv. Marshall en families van oorledenes