Statutêre verkragting en stygende tienerswangerskappe is Sondag tydens die amptelike bekendstelling van Kinderbeskermingsmaand onder die vergrootglas geplaas. Hierdie jaar se tema heet “Working Together to End Violence Against Children.”
Die regering erken dat kinders steeds daagliks aan mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting blootgestel word – tuis, op skool, in gemeenskappe en aanlyn. Dié jaar se veldtog poog om beter aanmeldingsprosedures, ondersoek en ondersteuning vir slagoffers beskikbaar te stel. ‘n Groot leemte wat die regering wil aanpak, is die swak aanmelding van statutêre verkragtingsgevalle en die gebrekkige bestuur van die aanmeldings. Verbeterde prosesse en toegang tot terapeutiese hulp vir slagoffers is ‘n sleutelfokus vir hierdie jaar se veldtog. Die regering vra alle Suid-Afrikaners op om saam te staan en kinders te beskerm.
Bekommernisse kan by die polisie aangemeld word. Berading en emosionele ondersteuning is by 0800 428 428, by die departement van ontwikkeling, beskikbaar.






