LOS ANGELES, VSA. – Regter Michael Jesic het die Menendez-broers se vonnis tot 50 jaar tronkstraf verminder, wat dit moontlik maak dat hulle binnekort op parool vrygelaat kan word.
Lees ook: Verhoor om Menendez-broers te hervonnis vind volgende week plaas
Erik en Lyle Menendez is in 1996 tot lewenslange tronkstraf vir die moord op hulle ouers gevonnis toe hulle 18 en 21 jaar oud was. Die broers het gesê die moorde was uit selfverdediging na jare se seksuele mishandeling deur hulle pa.
Die distriksprokureur het teen ’n laer vonnis gestry en aangevoer die broers is nie gerehabiliteer nie en het nie verantwoordelikheid vir die moorde aanvaar nie. Erik en Lyle het tydens die verhoor gesê hulle is jammer oor die moorde en dat hulle verstaan dit was verkeerd. Volgens familielede en mense wat met hulle in die tronk gewerk het, het die broers kursusse voltooi en programme geskep om die lewens van gevangenes te verbeter.
Regter Jesic het gesê die broers se werk in die tronk was “merkwaardig” maar dat hulle vonnisoplegging in 1996 regverdig was. Hy het gesê hulle kwalifiseer nou vir hervonnissing en hulle tot 50 jaar tronkstraf hervonnis.
Die broers sal nou voor die Kaliforniese paroolraad verskyn om te bepaal of hulle vrygelaat kan word. ’n Risiko-assessering is op die broers uitgevoer as deel van hulle versoek vir begenadiging. Volgens die distriksprokureur is daar ’n “risiko vir geweld” as die broers vrygelaat word.
Bronne: BBC, Sky News, The Independent
Lees ook: Verhoor om Menendez-broers te hervonnis vind volgende week plaas





