NOORD-KAAP. – ’n Bekende toesighouer by ’n rehabilitasiesentrum in Hanover in die Noord-Kaap is effektief tot 28 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Hy is skuldig bevind aan verskeie ernstige misdade, insluitend verkragting, ontvoering, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike besering te veroorsaak, gewone aanranding en crimen injuria.
Lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, sê die eerste saak spruit uit ’n voorval in 2019 toe ’n 39-jarige man, wat by die sentrum behandel is, na bewering aangerand en seksueel deur ’n werknemer misbruik is. Hy het die sentrum verlaat en die saak by die polisie aangemeld, waarna mediese ondersoeke die beserings bevestig het.
’n Tweede voorval het in 2021 plaasgevind toe ’n 53-jarige vrou ’n saak van ontvoering en aanranding teen dieselfde beskuldigde aanhangig gemaak het. Tydens die eerste saak is die beskuldigde op borg vrygelaat en moes psigiatriese waarneming ondergaan, maar is met die tweede saak weer in hegtenis geneem nadat hy nie aan hofvoorwaardes voldoen het nie.
Die saak is deur speurders van die GKS-eenheid in De Aar ondersoek, wat tot sy uiteindelike skuldigbevinding gelei het. Hy is op 22 Junie in die De Aar-streekhof tot effektief 28 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas word en hom ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.




