WES-KAAP. – ’n Rob is Saterdagoggend by Central Beach in Plettenbergbaai van kant gemaak, nadat dit abnormale gedrag getoon het en ’n moontlike risiko vir openbare veiligheid ingehou het.
Luidens ‘n verklaring deur die Bitou-munisipaliteit het Strandbeheer die dier by die lanseerplek opgemerk, waarna haaiwagte en lewensredders in kennis gestel is. Strandgangers is uit die water verwyder toe die rob nader aan die swemgebied beweeg het. Die rob het later naby die publiek aan wal gekom, terwyl lewensredders skarebeheer toegepas het. Videomateriaal is met die Garden Route Rabies Response-groep (GRR) gedeel, waarna verdere beeldmateriaal versoek is. Kenners het daarna bevestig dat die gedrag ooreenstem met moontlike simptome van hondsdolheid.
Daar is besluit om die dier van kant te maak om openbare veiligheid te beskerm en toetse moontlik te maak. Die nasionale seereddingsinstituut en polisiediens was op die toneel. Die rob is ongeveer 200 meter van Hobie-strand af op ’n menslike wyse uitgesit, waarna die karkas na Central Beach vervoer en vir laboratoriumtoetse verpak is.
Dr. Greg Hofmeyer, mariene soogdierspesialis en GRR-lid, het gesê: “Die dier se gedrag was hoogs abnormaal en ooreenstemmend met hondsdolheid, ’n noodlottige siekte wat ernstige risiko’s vir mense en ander diere inhou. Die verwydering van die rob was die veiligste opsie.”





