NOORD-KAAP. – Sers. Jannie Barend en die Calvinia-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, waaraan hy verbonde is, het beide tydens ‘n prestigegeleentheid toekennings ontvang.
Lt.kol. Sergio Kock sê die Rooivleisprodusenteorganisasie het die kongres en konferensie vir die jaar by die Flamingo-casino op 5 en 6 Maart in Kimberley gehou. Die geleentheid is deur Agri Noord-Kaap ondersteun en deur lt.genl. Koliswa Otolo, die provinsiale kommissaris, bygewoon.
Barend het die toekenning vir beste ondersoekbeampte ontvang en sy eenheid die toekenning vir die beste eenheid van sy tipe in die Noord-Kaap.
Die lede is vir hulle uitstaande diens, om veediefstal en bedreigdespesie-verwante misdade die hok te slaan, erkenning gegee.





