KWAZULU-NATAL. – Rookgranate en ammunisie is Saterdag in Midmardam naby Howick gevind, waarna die polisie se plofstofeenheid die items veilig verwyder het.
Midlands EMS sê sy Howick K9-span en ander nooddiensspanne is na die dam ontbied ná die moontlikheid van handgranate in die water gerapporteer is. Met aankoms het die K9-span vasgestel dat dit rookgranate is. Lede van die Howick-polisie, die polisie se soek-en-reddingspan en die plofstofeenheid het ook opgedaag. Die rookgranate en ammunisie wat ook gevind is, is deur die plofstofeenheid beveilig en verwyder. Die oorsprong van die items is nog onbekend en die polisie ondersoek die voorval.
Midlands EMS waarsku die publiek om nooit vermeende ploftoestelle, ammunisie of ander gevaarlike voorwerpe aan te raak of te verskuif nie. Die polisie of ander toepaslike nooddienste moet onmiddellik in kennis gestel word.





