Rubberkoeëls geskiet nadat Nigeriërs polisie glo in Kimberley aanval

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

KIMBERLEY. – Die polisie in Kimberley het rubberkoeëls geskiet nadat hulle glo deur Nigeriese burgers aangeval en polisie-eiendom beskadig is. Altesaam agt Nigeriese burgers is vir die onwettige besit van dwelms, openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem.

Kol. Cherelle Ehlers sê polisielede was besig om inligting van ‘n Nigeriese burger oor beweerde dwelmbesit op te volg toe ‘n groot groep Nigeriërs die polisielede aangeval het. Rubberkoeëls is geskiet om die skare uit mekaar te laat gaan.

Een verdagte is vir onwettige dwelmbesit en drie vir openbare geweld by die Kimberley-polisiestasie aangehou. By die polisiestasie het die verdagtes die vensters gebreek, waarna klagtes van opsetlike saakbeskadiging bygevoeg is.

Nog ‘n groep Nigeriërs het die stasie genader en glo gedreig om weerwraak te neem. Hulle is deur die operasionele bevelvoerder gewaarsku om uit mekaar te gaan, waarna polisievoertuie beskadig is. Nog vier verdagtes is vir opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem.

Lt.genl. Koliswa Otola het die inhegtenisnemings verwelkom en die optrede deur die verdagtes veroordeel.

“We will not allow such lawless behaviour, we are processing the suspects and working with Home Affairs to determine if they are legally or illegally in the country. Police will continue to stamp the authority of the state in the Northern Cape Province.”