Rubriek deur Bert Mostert: Die spieël waarin ons self moet kyk

Lees ook :

Halfvyf op ‘n Maandagoggend begin daardie irriterende deuntjie van sy selfoon se alarm speel. Hermie tas in die donker rond totdat hy dit beetkry. Verdomde ding het mos nie fisiese knoppies om te voel en te druk nie – alles is mos deesdae touchscreen.

Hy skud sy vrou saggies aan die skouer.

“Môre, my skat. Kom, jy moet opstaan, ek moet regmaak vir werk.”

Arme Sanet kon nog ingelê het – sy begin eers later werk. Maar sy’s ’n goeie vrou en staan op. Albei gaan badkamer toe, waar Hermie begin om sy tande te borsel. Die spieël is met ’n handdoek toegegooi. Vreemd. Hy kyk nie eens daarna nie – net na sy vrou. Asof sy die spieël is.

Hy spoel sy mond uit en kyk op na haar.

“Spoel weer, daar’s nog tandepasta op jou ken,” sê sy deur ’n lang gaap.

Hy luister en spoel weer. Volgende is dit tyd vir skeerroom. Hierdie een is ’n bietjie moeiliker, en sy moet wakker wees, anders sny haar man homself. Ná omtrent 15 minute se gesukkel plak hy die pleistertjie waar hy hom raakgeskeer het, net onder die linkerwangbeen. Dit brand lekker, maar hy’s al gewoond daaraan, dit gebeur maar gereeld. Ten minste is hy nou mooi skoon geskeer en vars, reg vir die dag!

“Dankie, skat. Lief vir jou!”

Sy kry ’n piksoentjie op die wang, en hy’s uit by die deur. Sanet haal die handdoek van die spieël af en begin met haar eie oggendroetine.

Jakobus 1:22-25

“Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.”

Dit is goed om as ’n gesin saam Bybel te lees, of as ’n paartjie, of selfs saam met vriende. Maar dit is van kardinale belang dat jy ook alleen tyd met God spandeer deur die Woord te bestudeer en in gebed te wees. Indien nie, sal jy nooit in oorwinning kan leef nie.

Die Woord van God is lewend en kragtig, skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.

Die siel en gees is so verweef dat sommige mense nie eens weet daar is ’n onderskeid tussen die twee nie. Daar is soveel dieper dinge in elke mens – soveel geheime, vrese en drome. Dinge wat jy vir niemand sê nie, dinge wat jy nie eens altyd in woorde kan stel nie. Hierdie dinge kan net tussen jou en God bespreek en verstaan word, geen ander mens kan Hom vervang nie.

My broer en suster, jy mis meer as wat jy dink as jy hierdie verhouding met jou Skepper nalaat. Jy het dit net so nodig soos ’n pasgebore babatjie sy melk nodig het.

Jakobus 4:8″ “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief