Toe ek nog ’n woelige jong knapie was, het ek ’n beste vriend gehad, Kobus van Wyk – of soos ons hom vandag ken, Vaales. My ma vertel dat, wanneer ons bymekaar was en sy ons kon sien of hoor, al het ons geraas, sy rustig was. Maar die oomblik as ons stil raak, het sy geweet ons is besig om iewers nonsens aan te jaag.
Hoe ons tot op hierdie ouderdom oorleef het, is vir my steeds ’n raaisel. Ons het chloorbomme gemaak, vuurpyle geskiet en in die koppies rondgehardloop soos wilde bergbokkies. Ons het selfs een jaar ’n bende begin, waarvan die inisiasieritueel was dat jy jou arm aan die brand moes steek met petrol. As jy vinnig genoeg was om die vlamme uit te slaan voordat dit jou te erg brand, dan was jy goed genoeg vir ons bende!
Na die finale eksamen op laerskool, toe die vakansie begin, kry ons twee weer ’n blink idee. Om die jaar af te sluit, na al die maande se leerdery en lyding, besluit ons om al ons boeke te verbrand. Ons sê vir ons ouers dat ons by my huis gaan oorslaap, en dat ons op die dak, wat so ’n oulike balkon het, buite gaan slaap. Watter kind hou nou nie van buite slaap in die somer nie?
Laat daardie nag, toe almal slaap, begin ons met ons missie en maak ’n vuurtjie op die dak. Alles het goed verloop en elke vorm van leerwerk is suksesvol deur die vlamme vernietig.
Die volgende oggend was natuurlik ‘n ander storie, want my ma wou weet hoekom haar hele tuin en swembad vol as en papiere is. Ek is nie seker wat daarna gebeur het nie, maar ek vertrou ek het my pak soos ’n man gevat!
Jy sien, as jy so jonk is, verstaan jy nie altyd die nagevolge van jou aksies nie. Ons kon die huis afgebrand het, maar dit het nooit eens by ons opgekom nie. Soos wat ’n mens ouer word, begin jy gewoonlik die gevolge van ’n saak raaksien nog voordat jy dit doen. Of ek hoop maar dis so met meeste mense; dit lyk of party nooit leer nie.
Ek het al soveel kere in my lewe, soms daagliks, teruggedink aan iets wat ek gesê of gedoen het en met skaamte besef dat ek verkeerd was. Soms sê mens iets sonder om regtig daaroor te dink, en dan kan dit iemand lelik aanstoot gee of seermaak. Ek gee myself die grasie om foute te maak, solank ek net nie soos ’n donkie my twee keer teen dieselfde klip stamp nie. Ek leer en sorg dat ek aanpas.
Soms het ek nie die wysheid om dit self agter te kom nie, en dan moet iemand wat my ken, my reghelp: “Bert, jy kan nie dit sê nie!” Dan vra ek maar om verskoning en leer uit my fout.
Liewe leser, ons almal maak foute. Ons almal praat verkeerd, doen verkeerd, en doen sonde. Dis menslik. Wat jy as Christen egter nie moet doen nie, is om terug te gaan daarna soos ’n hond na sy braaksel. Leer uit jou foute, groei, en word ’n beter ambassadeur. Want sonder die heiligmaking sal ons Hom nie sien nie.
Jakobus 3:2
“Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.”





