Rubriek deur Bert Mostert: Hy’s nie laat nie – jy’s net haastig

Lees ook :

Het jy al ooit gebid vir iets en dit net nie gekry nie? Jy’s op jou knieë, vra en vra vir ‘n deurbraak in daai een area van jou lewe, maar niks gebeur nie. En dan sien jy boonop hoe ander kry waarvoor jy so hard bid – en jy weet sommer hulle spandeer nie naastenby soveel ure op die mat soos jy nie.

As dit vir jou bekend klink – welkom by die klub!

Kom ek verduidelik dit met ‘n voorbeeld. Dink aan boks. Laasjaar het Jake Paul teen Mike Tyson geveg en maklik met punte gewen. Niks skokkend nie. Maar hoor dié – as daai geveg gebeur het toe Tyson nog 20 was, sou dit amper as gesanksioneerde manslag kon kwalifiseer. Die man sou oor Jake gestoomroller het soos ‘n trein deur ‘n trop skape! Dis hoe ‘n groot verskil tyd kan maak.

Dis nou ‘n voorbeeld van die langtermyn. Maar daar’s ook die korttermynkant van tydsberekening.

Mense gaan mal oor krag in boks, hulle sê dis die belangrikste. Maar ouens wat wéét waarvan hulle praat, sê altyd: “Spoed wen krag, maar tydsberekening wen spoed.” En dis waar, ek het dit al baie gesien. Jy het ‘n jong ou met blitsvinnige hande en hope krag, en hy veg teen ‘n ouer bokser wat nie meer so vinnig is nie. Maar raai wat? Die ou leeu hou aan om hom raak te slaan! Dis nie geluk nie – dis goeie tydsberekening.

Dus, as tydsberekening só ‘n groot verskil maak in iets so eenvoudig soos boks, dink bietjie hoe belangrik dit in die lewe is!

Die Bybel sê Jesus het op presies die regte tyd aarde toe gekom – nie direk na die sondeval nie, en ook nie in ons tyd van vliegtuie en Google nie. Nee, 2 000 jaar gelede was perfek.

Abraham moes wag tot hy 100 was voor hy sy beloofde kind gekry het. Moses moes 40 jaar in die woestyn sit voor hy sy volk kon uitlei. En Simson? Hy’t sy krag sommer al vroeg gekry… en kyk hoe het dit vir hom uitgedraai.

Ons Vader weet presies wanneer die tyd reg is vir jou gebed om beantwoord te word – of dit nou ’n droom, belofte of versoek is. Maar een ding is seker: as dit van Hom af kom, sal dit ook op Sy tyd gebeur.

So wees geduldig. Moenie moed opgee of kla as dinge nie dadelik gebeur nie. Glo dat Hy weet wat Hy doen – en Hy sal opdaag.

En nog ‘n klein brokkie wysheid: As jy vir iets bid en God vra jou om iets te doen, onthou dis belangrik om op die regte tyd op die boot te klim, maar net so belangrik om af te klim wanneer Hy sê dis tyd!

Prediker 3:1

“Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief