Rubriek deur Bert Mostert: Is daar ’n muis in jou huis?

Lees ook :

Ek kom die namiddag moeg van die werk af en skop my skoene uit om dit te verruil vir my lekker snoesige pantoffels. Net toe ek my voet in die een wil indruk, woeps! — daar vlieg ’n veldmuis uit! Ek weet nie wie van ons twee die grootste geskrik het nie, seker maar ekke!

Ek het twee katte, en hulle hou my huis gewoonlik skoon van enige onwelkome gediertes — dis nou as hulle dit nie self inbring om mee te spog nie. Ek kry gewoonlik die muise jammer en probeer my bes om vir hulle ’n kans te gee om te ontsnap. Ek maak dan die deure oop en probeer die katte weghou sodat die muis kan padgee. Maar dit werk selde, want my katte is goeie jagters.

Daardie middag het ek egter nie veel genade gehad nie, want ek het al genoeg slaap verloor oor die goedjies wat my in die nag pla. Dan hardloop die katte sommer bo-oor my, en dis net gordyne wat waai, gekrappery en gespelery wat ure lank kan aanhou. Nee, hierdie muis gaan nie vanaand my rus steel nie! Ek hardloop toe en gaan haal my grootste kat, die mees gevreesde jagter in die huis. Hy maak kort werk van die arme muis en laat nie veel van sy bestaan oor nie.

Daardie nag, toe ek in die bed klim en my selfoon aan die laaier koppel, merk ek dat die kabel op verskeie plekke gekou is. Ek weet onmiddellik wie die skuldige was, en ek is sommer bly ek het so vinnig met hom afgereken. Verbeel jou hy het my rekenaarkabel in die hande gekry!

Ek leer twee lesse daardie dag:

  1. Ek dink aan die skrifgedeelte in Hooglied 2:15:

“Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in bloei.”

Dit was nie ’n groot gevaarte soos ’n slang of ’n inbreker in my kamer nie, maar ’n klein jakkalsie (’n muis) wat stil-stil skade aangerig het sonder dat ek dit eens geweet het. Hoeveel jakkalsies laat jy in jou lewe toe, wat stadig maar seker afbreek en opvreet? Nie alle sondes is die groot en bekendes soos egbreuk, moord en diefstal nie. Daar is kleiner, meer geheime oortredings wat saam ook ’n groot impak op jou lewe het.

  • Dit sou vir my baie moeilik gewees het om self van die muis ontslae te raak, so ek het hulp geroep van een wat kon. Soms is dit moeilik om versoekings te oorwin, en jy kan dit nie alleen doen nie. Daar is niks verkeerd daarmee om hulp in te roep van ’n vriend of iemand wat jy vertrou nie, al is dit net om saam met jou oor die saak te bid.

En dan is daar natuurlik die Helper wat altyd daar is, wat nooit sluimer of slaap nie: die Heilige Gees van God. Jy hoef nie alleen te veg nie. Jou Helper is altyd naby, gereed om jou te versterk, te dra en jou in oorwinning te lei.

Al wat dit jou sal kos, is net om te vra!

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief